Sout, water en wonderwerke 2


cropMoeder Raaf skryf hierdie jaar weer na byna drie dekades graad 4 eksamen. Die week stoei ek en my oudste deur die Wetenskap en leer van soute in seewater. Gewone tafelsout (natriumchloried) is een van die soute wat opgelos is in seewater. Saam verwonder ons ons aan die Dooie See met sy uitermatige hoë soutkonsentrasie, 8 keer souter as seewater. Dit word veroorsaak deur hoë omgewingstemperature, verdamping en relatiewe min varswater-inloop. Daar kan vakansiegangers in die water ronddryf sonder enige inspanning.

Ons doen toe die volgende eksperiment, om die Dooie See verskynsel beter te verstaan.
Neem ’n eier en plaas dit in ’n glas water (gekleur vir spesiale effek). Die eier sink vinnig na die bodem. Dit gebeur aangesien die eier digter is as die water (meer deeltjies per volume).

In die tweede glas maak ons ‘n versadigde soutoplossing in warm water. Nou dryf die eier nuuskierig op die wateroppervlakte.

In die derde glas het ons die warm soutwater-oplossing nie gekleur nie. Die eier dryf in die soutoplossing. Versigtig gooi ons gekleurde koue water by. Die minder digte gekleurde water dryf bo-op, dan die digter eier en laastens die soutoplossing wat as gevolg van die opgeloste sout die digste is.

Die dryf van die eier op die water het my onwillekeurig laat dink aan die wonderwerk waar Jesus Petrus tydens die storm op die see van Galilea laat loop het. Wat het tydens hierdie wonderwerk gebeur? Het Jesus vir daardie oomblik dalk die soutkonsentrasie van die water so verhoog dat hulle minder dig as die water was? Dalk het Hy Petrus se dryfvermoë of stygkrag (Engels: buoyancy) so verander dat hy kon dryf soos ‘n groot skip op water.

Opnuut besef ek dat Jesus soewerein en uniek antwoord in elkeen van ons lewenstorms. Soms verander Hy die situasie waarin ons onsself bevind en gee so uitkoms. Soos Dawid in Psalm 40, voel ons hoe Hy ons soms uit die slymerige modder trek en ons voete op ’n vaste rots plaas. Ander kere voel ons hoe Hy iets in ons verander en nuut maak terwyl ons situasie om ons onveranderd bly. Hy gee dan vir my voete soos ’n ribbok s’n om binne-in die storm te begin dans en Hom reeds te prys!

Vandag vertrou ek opnuut weer op Sy goddelike al-Wetenskap want ek weet Hy sal my op ‘n wonderbaarlike wyse laat triomfeer in elke situasie tot Sy eer!


Leave a comment

2 thoughts on “Sout, water en wonderwerke

  • Suenette Botha

    Ai Wilna,

    ek het so baie gemis! Hoekom het ek nie al lankal in jou deelgoed kom deel nie? Ek sal maar vir Inge en Anke na jou toe stuur vir eksperimente…..beslis nie my spesialiteitsgebied nie.

    Ek sal nou meer gereeld van dit wat jy uitdeel kom kry…..het dit so nodig. Lekker dag vir jou vriendin. x

  • Hesta Benson

    Baie dankie Wilna! Ek het opnuut vanmôre op jou deelgoed afgekom, en nuwe inspirasie gevind vir so baie dingetjies!! Jy is kosbaar, en moenie ophou nie, maar hou aan opbou! Hesta.