Waag om te lewe! 5


Deelgoed het aanvanklik ook in my kop kom lê omdat ek graag met mense wil deel wat ek lees en kyk en beleef. Ek wil met my leke resensies oefen om te skryf en myself leer om te reflekteer en te verwoord en hopelik myself dwing om dieper te ervaar. Die lewe is te duur vir vinnig kou en uitspoeg sonder om te proe. Ek wil my chappies kou, en kou en rondrol in my mond sonder spyt vir te vroeg en te vlak ervaar.

Ek het hierdie eerste week van my vakansie Sabbatsreis van Annelie Botes verslind. Dit is ‘n outobiografie van ‘n vrou wat ten spyte van seer en vrees oor die verlede die moed het om terug te stap sodat sy kan vorentoe loop. Die verlede en die hede is meesterlik aanmekaar gestik met goue wysheidsgare wat glim en wink in die gewone leef met buitengewone kyk. In eenvoud en sonder pretensie vertel die Kammanassiekind haar storie en teken voor my geestesoog die rykste beelde van seer, hunkering, teleurstelling maar ongetwyfeld van liefde, behoort, omgee en deernis.

Hierdie vrou se waagreis om haar dobbelskuld te gaan delg speel af in Londen maar die terugkyk na winste en verliese in haar lewe loop terug tot in die hart van die Klein Karoo. In London sorg sy vir ‘n 82 jarige bedlêende, byna Alzheimer, Engelse dame. Met liefde en omgee soos vir ‘n eie ma, sorg sy vir Granny wat net sowel haar ma kon wees, as haar ma nog geleef het. Ek identifiseer met die terugverlang na ‘n ma wat onverwags en te vroeg vir ewig stil geword het. Ek dra ook my askiesse en onverwoorde liefde in ‘n swartboksie rond. Soms wonder ek ook of my ma uiteindelik sou trots wees op wat ek tot nou toe bereik het.

Ek het weer besef dat so baie van ons pynstillers in ons lewe het waarmee ons die seer in ons lewe probeer verdoof sodat ons die konfrontasie daarmee kan ignoreer, uitstel of probeer vergeet. Ons soek iets om in die hol gat te stop, maar die gat groei net groter, amper soos Granny se toegemaakte bedsere want dit broei in donkerte sonder lig en sout water. Hierdie gifmedisyne neem baie vorme aan – drank, dwelms, dobbel, wellus maar ook meer edele, meer aanvaarbare, maar net so dodelike vorme soos werksverslawing, oordrewe naastediens en gatkruip. Ons kruip weg vir die prentjie van onsself wat ons nie wil sien nie. Miskien as iets of iemand anders my aanvaar, hoef ek dit nie self te doen nie. In die wegkruip vir die gebreke, gebroke self, kelder ons so baie van die mooi kreatiewe Godgegewe gawes in ons, wat moet uit.

Ek het geniet hoedat sy met humor in die swaarste tye waar sy onder haar sielsieke werkgewer moes ly kon lag en lag bring ten spyte van die trane in en om haar. Ek het onthou van dae waarop ek met ‘n Smaartie op my neus wou loop net omdat dit anders en verspot is, omdat dit kleur sou gee aan die grou in my hart en die wêreld om my sou flous, vermaak en oplig. Ek het ook al die waarde ervaar van ander om my optel na die Lig terwyl my gemoed vol modder is. En dan in Sy lig sien ek ook weer die lig.

Ek gaan nog van Annelie se boeke lees en jull kom vertel wat ek ontdek.


Leave a comment

5 thoughts on “Waag om te lewe!

  • Erna Kotze

    Ag, dit is so mooi gesê. My hart is aangeraak en ek is trots om te kan sê dat ek jou al met ‘n smartie op jou neus beleef het 😉 Blog verder, maatjie, dis lekker smarties vir die siel!

  • Esmè Roller

    Ai, en waar sou ons wees…sonder humor? Dis ook in die moeilike tye dat ek ‘n stringetjie Wine Gums om my nek wil hang, soos jou Smartie op die neus…Sodra my koppie wil begin sak, sien ek die veelkleurige gommetjies en ‘n onkeerbaare glimlaggie krul om my mond… Genoeg gesê.