Google Straat-kykers


Foto deur Aaron Hobson

Leeuwenhof Akademie

Google bied al ‘n geruime tyd gratis aanlyn padkaarte vir nie-kommersiële gebruik aan sodat ek en jy ons roetes kan beplan hetsy ons nou per voet, motor, fiets of publieke vervoer gaan reis. Aanvanklik het Google satellietbeelde gebruik om kaarte ‘n groter visuele element te gee. Die visuele en pret-faktor is uitgebrei met die koms van Google Street View. Sedert Mei 2007 deurkruis Google voertuie met gemonteerde kameras en GPS-toestelle, strate regoor die wêreld, opsoek na foto-materiaal vir meer virtuele padkaarte en navigasie. Nie alleen kan jy Google Maps gebruik om die roete na jou nuwe werksonderhoud te beplan nie, jy kan ook kyk waar jy dink die baas dalk sy motor parkeer. 

Google Street View motor

Deesdae bevat die kamera-gemonteerde motors 15 lenses wat 360° panoramiese foto’s neem van strate oral oor die wêreld waar hulle mag en al geleentheid gekry het om te ry. Die motor het ‘n beweging-sensor wat sy posisie bepaal asook ‘n hardeskyf vir die stoor van data op ‘n klein rekenaar. Lasers word gebruik om 3D-data vas te vang om afstande binne die Street View beeld te bepaal.

Street View bergfiets-modifikasie

Daar is al heelwat asemrowende, unieke en vêrafgeleë plekke besoek met die Google kameras. Nie alle plekke is egter ewe toeganklik met die Street View motor nie. Op ‘n dag het ‘n meganiese ingenieur ‘n blik plan gekry wat hom in staat gestel het om sy gunsteling stokperdjie, bergfietsry, te kombineer met Street View se pogings. Met sy fiets-aangedrewe kamera-sisteem kan Dan Ratner en ander avonturiers help om foto-materiaal te versamel in parke, wandelpaaie, universiteitskampusse en sport stadiums.

Street View Sneeutuig

Die vindingryke Google-span het selfs die kameratoerusting al op ‘n sneeutuig vasgemaak om bibber interessante plekke visueel te gaan oorwin. Die ekstra hardeskywe is sommer met ski-baadjies en kleeflint gepantser teen die uiterste omgewingstemperatuur. Verbasend hoe vêr mens met entoesiasme, avontuurlus en uitdagings kom.

‘n Paar Google kuns-entoesiaste het selfs hierdie kamera-toerusting gebruik vir die skep van virtuele toere deur museums.

 

Aaron Hobson, ‘n kranige panoramiese kunsfotograaf gebruik van hierdie unieke Google Street View foto’s en foto-redigerings-programme soos PhotoShop om betowerende nuutskeppings te vorm. Deur die lig te verander op plekke, skaduwees te verdiep, kleure te verander en verskillende foto’s aan mekaar te stik skep hy verbeeldingryke bestemmings wat mens verwonderd laat droom en wonder. Een voorbeeld is Bileam se donkie wat hier in Mexico poseer vir sy selfportret. Gaan kyk gerus na nog voorbeelde van sy briljante werk. Miskien moet ek ook weer bietjie speel met Photoshop en kyk wat ek kan uitrig met die Google foto’s in my omgewing….

Leave a comment