As meubels kon praat 3


‘n Groet-moment by die kis voor die lykswa vir oulaas vertrek. Vandag was weer vir my so ‘n kis-oomblik toe hulle pa se  twee laaikaste en chevaal kom wegry het pandtjiewinkel toe. Ek wou amper weer vir oulaas oor die hout streel en die herinneringe in die stof aan my vingers vasvang.

Die een bal en klou laaikas het as kind in my kamer gestaan, in die hoek langs die venster. As ek my oë toemaak kan ek selfs onthou wat in elke laai was.  Ma het ook een gehad. Hare het voor haar kant van die dubbelbed in die hoofslaapkamer gestaan. In die laaie was alles netjies gepak en detail dingetjies was gesorteer in deurskynende plastieksakkies met rekkies om. Meestal is die reeds sigbare inhoud nog met ‘n etiket op die sakkie ook nog gemerk.

Onder die glasblad bo-op ma se eboya laaikas was daar ‘n roosgeborduurde lappie. Voor die lappie, onder die glas het sy al haar kaartjies met mooi aanhalings ingeskuif. Een aanhaling wat ek onthou is die een van Reinholdt Niebuhr: – “God, give us grace to accept with serenity the things that cannot be changed, courage to change the things that can be changed, and the wisdom to distinguish one from the other”.  Ek besef nou eers hoe dié spesefieke aanhaling my in my lewe gedra het om nie verbitterd te raak nie. Wens sy kon dinge meer gelate aanvaar en nie die wrewel  en pyn van weier-om-te-vergewe so netjies in ‘n rekkie-sakkie in haar hart se laaie bêre nie.

Die lang cheval spieël met laaitjie aan die onderkant was my kleintyd-snuffelplekkie waar ma haar grimering gebêre het. Daar was ook ‘n blou blikkie met ‘n prentjie van ‘n dogtertjie en haar hond op waarin ma haar haarrollers gebêre het.  Op my knieë het ek voor die spiëel gesit en met grimerig geëksperimenteer terwyl ek my voorkoms goedkeurend in die spieël kon bestudeer. Jare later het Katriena my spierwit laerskoolkat haar spieëlbeeld met haar gekloude voorpoot probeer bykom en soms haar ander self, agter die spieël gaan soek. Iewers in die spieël se glasgeheue is beeld soos: …ek in my matriekafskeidrok; …ek in my voorstelrok; …ek in soveel van die rokkies wat ma vir my met goedkoop lap, duur liefde en opoffertyd gemaak het.

Die pantjiewinkelman het ook die sitkamerkoffietafel opgelaai. Ek het onthou hoe my fantasie dorpe onder hierdie tafel  gebou was. Met lego, plaasdiere, karretjies en cowboys en indiane kon ek elke slag ‘n ander werklikheid skep.

Die lae koffietafel was lank, van donker hout met baie plek vir teken, legkaartbou en krale-inryg. Maatjies het altyd by my kom legkaart bou want ma het ‘n hele appelboks vol legkaarte gebêre vir reëndae. Op ons knieë om die Monopoly-bord het ons geleer baklei vir wat reg is, geleer vrede bewaar ter wille van die voortgaan van die spel, geleer strategies beplan, geleer Engels lees en geleer dat geluk ‘n groot rol in die lewe speel… Vandag wil ek dit eerder genade as geluk noem. Dis nie die noodlot wat bepaal nie maar ons Vader in die hemel wat vir ons stukke afmeet. (Ps. 16:6)

My ou skryftafel wou die pandjieswinkel nie eers gehad het nie… Ek wou nog vertel dat my pa dit self gemaak het… Die staal pote was afkomstig van my baba eetstoeltjie. Die plastiekbak-laaitjies was my eie uitvindstel wat my pa geduldig op my aandrang moes maak werk. Later het hy ‘n laag panelite oor die houtblad geplak en in die motorhuis as werksbank gebruik. Verweer, verwaarloos maar propvol herinneringe. Kosbaar – maar in die pad.

Iemand het eenkeer gesê ‘n begrafplaas is die plek met die meeste potensiaal – drome wat nooit geleef is nie, gedigte wat nooit geskryf is nie, planne en uitvindings wat nooit gerealiseer het nie. ‘n Pandjieswinkel is anders. Dit is ‘n skatkis van herinneringe wat wel gebeur het, stories wat geleef is. Party hartseer, party mooi. As meubels kon praat, wat sou hulle vertel…?

(5 Januarie 2010)


Leave a comment

3 thoughts on “As meubels kon praat

  • Susan Roux

    Hi Wilna! Ek sit nou hier voor my rekenaar – ogies pisserig en daardie bekende brandgevoel in my keel as ek die trane sluk. Ek onthou ook MY ouers se meubels, die bal-en-klou-poot stoele, spieelkas, koffietafel… die rosies op die materiaal, die gehekelde lappies op die tafeltjies… Ek onthou die reuke, smake en geluide van my ouerhuis en ek wonder saam met jou – as meubels kon praat… Jammer oor jou eina, my maatjie. Ek is ‘n laatlam en my enigste sus is in 1993 oorlede. My pa in 2000 en my ma in 2004. Ek sal altyd die herinneringe van my kleintyd saam met my dra en ek deel dit alles met my seun vandat hy kan verstaan. So hou ek dit na aan my hart en sorg dat dit sal voortleef. Sterkte vir jou daggie. Susan

  • Esmè Roller

    Hi Mater, sjoe…hoe aangedaan is ek nou! Jou raak beskrywings van BEKENDE emosies, weergalm in my hart. Dit laat my opnuut gryp na Ma S se ou, verweerde trui…as ek verlang (amper elke dag), druk ek hierdie trui met Ma-se-reuk styf teen my hart vas. Troos! Ook in die wete dat dit my en haar GEHEIM is…my ek-verlang-na-jou-want-jy’s-te-gou-weg-oomblikke!

    Dankie vir die deel. Lief vir jou!