Los gedagtes op Asem se spoor 1


“Wees altyd gereed om ‘n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ‘n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” ( 1 Pet 3:15)  
Wat lewe in jou?

Ek het so ‘n rukkie terug 5uur soggens begin stap. Behalwe dat dit veronderstel was om goed te wees vir die skaal (mits frustrasie nie voordurend kalsiumryke sjokolade in my winkeltrollie gooi nie) het dit my spesiale geselstyd met die Here geword. Ek noem dit ‘n kinistetiese stilword tyd. Soms as ek vroeg opstaan sukkel ek om my oë oop en op die Bybel te hou. Soms jaag my gedagtes so dat ek nie kan fokus op Sy stem nie. Nou lees ek soggens ‘n stukkie uit die Bybel en dan vat ek en my besige kop die pad. Strate op en strate af help die meganiese beweeg van my bene om my gedagtes makliker op die Here te fokus. Met die vars lug in my longe word selfs ‘n minslaapmoeg lyf wakker en kan ek konsentreer op Sy stem. By die terugkom maak ek kosbare aantekeninge in my joernaal.

Daar is ‘n paar steil bulte daar om my huis, veral een. Om hulle uit te kom, konsetreer ek ritmies tree vir tree op my asemhaling, diep in, diep uit totdat ek weer ‘n gelykte of ‘n plesierige afdraende bereik. Teen hierdie steil bulte sien ek nie altyd die mooi blommetjies raak nie, ek is onbewus van die voëltjies wat sing my huppelstap is baie besadig en bedeesd. Ek besef daar is weke in die jaar waar die opdraendes steil en die pad moeilik en oninspirerend is. Dis tye soos die wat  ‘n mens met jou kop moet begin prys totdat jou hart weer die ritme begin voel.

Lofprysing is nie altyd ‘n oorloop vanuit die oorvloed nie, baie keer is dit eers ‘n keuse en meganiese doen voor die toegegroeide fontein weer begin water borrel. Volharding oppad na die vol word ding.

As die bulte in jou lewe steil en taai raak moet mens soms net onthou om asem te haal. Diep in en diep uit. Geestelike asemhaling.

Ruach is die Hebreuse woord vir Gees en dit beteken wind maar ook asemteug, asemhaling (Engels: ‘breath’). God het Sy ruach in die mens geblaas toe Hy hom geskape het. Die lewensasem wat van Hom kom.

Hoe meer jy jou longe oefen hoe groter word jou kapasitiet. Hoe dieper jy asemhaal, hoe dieper kan jy later teug. Ek wil dieper teug en meer van die Here ervaar.

Ironies dat dit juis die swaarkry en seerkry bulte is wat ons leer van die dieper, ryker ruach -lewensasem. Dit is wanneer jy besef dat jou eie asem te min is en dat sonder Sy asem in jou longe jy dit nie sal maak nie.

Op ‘n koue dag sien mens duidelik hoe ‘n vlak asemteug op die uitasemslag steeds selfgesentreerd klewerig om jou mond bly wolk. Wanneer jy egter dieper teug aan Sy lewegewende asem, word jou uitasem minder deur jouself gedefinieer en sprei dit soveel verder. Handelinge 1:8 praat van hierdie effek waar ek toelaat dat Sy Gees my so volmaak dat my uitasem uit my oorvol hart ander vir Hom kan wen.

Ek kan alleen gereed wees om te getuig van lewende hoop in my as ek daagliks Sy lewensasem gaan soek ongeag van hoe ek voel gemotiveer deur noodsaaklikheid.


Leave a comment

One thought on “Los gedagtes op Asem se spoor

  • Esmè Roller

    God se Asemteug… Mmm… Hoe wonderlik om nie maar net stil te hoef te word en Sy Asemteug deur ons te voel spoel nie! Soos in Sy Woord: “Draw near to God and He will draw near to you” James 4:8. Lewegewende asem, soos jy tereg sê, mater.