Spesiale gewone dinge


AidaDonderdagaand is kooraand. Oudergewoonte ry ek terug in die drukte van die spitverkeer nadat ek die kinders afgelaai het. Twee en ‘n half uur van breindood ontspan lê voor. Ek ontdek egter ‘n cd met snitte uit Verdi se bekendste operas in die cd-speler. Skielik word die gewone spesiaal want ondeund draai ek die volume vol oop en begin die groot mars uit Aida dirigeer. By die robot slaan ek met mening die stuurwiel wat aambeeld geword het terwyl ek saam hamer op die Anvil chorus.

Gestoord kyk die mede-padgebruikers na hierdie wuifende vrou wat hul vensters laat ratel. Daar is nie fur op die dashboard nie en die gedoef klink vreeslik formeel. Vandag pas ek nie in hulle boksie nie, want vandag het ek besluit om die gewone spesiaal te maak.

bootOppad huistoe haal ek gou pos uit en ontvang die poskaart wat ek aan ons geskryf het toe ons omtrent ‘n maand terug op ‘n boot op die Knysnameer gebly het. Sommer net
Aan ons…,
…van ons.
En so word ‘n gewone Donderdag spesiaal omdat ek weer onthou van die avonture met die anker wat Dawid met ‘n bysteek hand moes lig.  Ek beleef weer die drama met die vasmeerboei wat per abuis in die enjin se propeller beland het. Ek maak my oë toe en sien weer Knysna se liggies wat weerkaats op die water.

Ek leer altyd my kinders dat daar nie altyd lekker in elke dag is nie en dat jy meeste van die tyd maar jou eie lekker moet maak. Deur bietjie te dink kan mens gewone dinge ‘n buitengewone baadjie gee. Mens kan kosbare dinge selfs nog meer kosbaar maak deur dit nie soos Smeagol in Lord of the Rings alles vir jouself te wil hou nie, maar deur dit eerder uit te deel.

rosebud2Ek het ‘n tyd terug in Porseleinkoppie se Stempel vertel van my ma se roosknop-teestel. Daarin het ek juis gepleit dat ons nie spesiale goed moet bêre vir die eendag wat dalk nooit kom nie, maar dat ons dit nou reeds moet geniet en koester. Ek het daarna begin om my ma se teestel stuksgewys weg te gee aan van my hartsvriendinne met wie ek ‘n stukkie van my ma wou deel. Ek het na haar dood verlang na familie en behoort. Dalk het ek met die gee van dit wat vir ons kosbaar was, gehoop om dit juis te behou.

Kort voor lank, het ek van die hele teestel net die suikerpot oorgehad.

Dit bring my by nog ‘n uitsonderlike vakansie-onthou.

Ons is ‘n paar tuisskoolmammas wat tans deur die boek “8 Great Dates for Moms and Daughters” deur Dannah Gresh werk. Die idee is dat ma en dogter tydens agt spesiale geleenthede saamgesels oor sekere onderwerpe soos om jou skoonheid deur die Here se oë te sien, die geheim van fisiese skoonheid te ontdek en nog baie meer. Ek en Talita moes nog die spogtee afspraak nakom.

As deel van daardie gesprek moes ek ‘n porseleinkoppie, ‘n gewone keramiekkoppie en ‘n polistireenkoppie hê. Die kern van die les is dat die Here elkeen van ons as meesterstukke geskep het, soos fyn porseleinkoppies. Uniek en pragtig. Ons neem egter daagliks besluite waar ons optrede nie altyd ons porseleinstatus weerspieël nie. Soms praat ons met ons ouers (of ons man) asof ons en hulle, gewone vaal keramiekkoppies is, of ons hanteer ons finansies asof ons weggooi polistireerkoppies is. Saam-saam evalueer ma en dogter hulle lewe en word venote om mekaar in die toekoms te herinnder en aan te moedig dat hulle as meersterstuk porseleinkoppies moet leef.

Die KoffiehuisIn Sedgefield ontdek ek die perfekte koffiewinkel vir hierdie afspraak. Nou net plan maak met die porseleinkoppie want hierdie koffiewinkel se koppies is gewone vaalwit keramiek. Die dag voor die afspraak ontdek ek ‘n oudhedewinkel met baie spesiale porseleinkoppies. Sommer met die instapslag val my oë op die twee roosknop teekoppies in die vertoonkas. Dit lyk op ‘n haar na presies dieselfde as my ma se teestel wat stuk-stuk by my hartsmense beland het. Wat is die kans? Hoe ongelooflik kosbaar is dit? En saam met die koppies is daar nog twee koekbordjies ook. As mens die gewone begin spesiaal maak dan word die spesiale ongeëwenaard kosbaar!

Die twee dames by Die Koffiehuis deel dadelik in my opgewondenheid en verrassingsplanne. “Mevrou, my dogter verjaar ook amper” vertel die een. “Hierdie is nie ‘n verjaardag nie” sê ek. “Dis sommer ‘n gewone spesiale dag wat ons gaan geniet.” Versigtig vat die ander een die roosknopkoppies en belowe om die warmsjokolade daarin te bring. Mens mag mos gesofistikeerd wees en steeds drink waarvan jy die meeste hou? Ma’s verstaan mos hul kinders se binneharte!

teeSo geniet ons tweetjies ‘n bederfgeleentheid in mekaar se geselskap. Ons begin om ons harte te deel, ons swakhede aan mekaar te erken en aan die einde bid ons saam en ons harte jubel oor bederf roosknopkoppies en warmsjokolade en ‘n saamloop-verhouding wat ons Hemelse Vader lank reeds terug al vir ons beplan het. Iewers in die kombuis staan twee vroue en gesels oor hul dogters by die huis en dalk, net dalk, besluit hulle om die gewone, soms leë dag-tot-dag lewe vir ‘n oomblik om te keer en blomme daarin te gaan rangskik.

(Kliek gerus op die fotos ek het veral die eerste twee spesiaal saamgesel in Photohop vir hierdie deelstukkie)

Leave a comment