deelgoed ek deel graag met jou

Dinge sê nie alles nie, maar dit sê baie…

Ek weet ‘n mens is baie meer as jou besittings maar daar is dinge wat mens besit wat jou tog uniek identifiseer en uitken vir die wat saam met jou leef… Ek het dit vandag weer besef toe ek ‘n wit Toyota Corolla sien, soos my pa se ou motor. Ek kon my verbeel ek sien hom agter die stuur sit met sy bruin geruite tweed pet wat sy bles teen die son en koue beskerm.

Die wit Toyota het ten minste een keer per dag ‘n draai by die nabygeleë winkel-sentrum gemaak waar ons vorige tuinjong nou as karwag werk. Die wag sou dan sy daaglikse brood in die vorm van kaas en tamatie toebroodjies kry, met sorg deur my ouers voorberei.

Ek onthou die donkerblou badkamersakkie wat my pa as bladsak gebruik het vir sy beursie, ID-dokument, tjekboek, selfoon, pen en derglike dinge. Die sak het oral saam met hom dorp toe en winkel toe gegaan, totdat dit 3 maande voor sy dood in ‘n winkel gesteel is, met alles daar in…

My ma het ‘n harige bruin baret gehad wat sy in die winter gedra het om haar ore teen kroniese middelooronsteking te beskerm. Sy het twee getande Victorinox groentemesse besit, wat alles kon sny, snipper en selfs met hul ronde punte kon botter smeer ! As my ouers met vakansie sou gaan is die messe, hul eie borde en eie pan sorgvuldig ingepak ongeag of die vakansieoord daarmee toegerus was of nie. My ma se goed het net eenvoudig beter gewerk !

Op Universiteit het my Fisika dosent Prof. Moraal pyp gerook. Dit was ‘n algemene gesig om hom in ‘n praktiese sessie, pyp in die hand te sien studente help. Tydens eksamens kon mens die pyptabakreuk in die gangetjie ruik soos dit opgestap kom van agter iewers. Dit het dan sommer vir my gevoel of ek slimmer kan antwoord…

Op skool het ons arme Wetenskap onderwyser ‘n ou groen boksvormige Austin besit. Die motortjie was nogal klein en die seuns het dit menigmaal opgetel en tussen twee bome gaan neersit. Een boom voor en een agter, met baie min maneuver spasie om uit te kom….

My bont sokkies is vir my ‘n groot bron van geluk. My kollega het altyd gelag as ek haar vertel het dat Peter Pan gesê met mens het net een “happy thought” nodig om te kan vlieg. Meer as een keer was my bont kouse my gelukkige gedagte waaraan ek vasgehou het totdat die dag se geluk later die frustrasies kom verbysteek het… So ken party mense my ook as – die juffrou met die kouse! Deesdae probeer ek meer stylvol leef, maar my hart trek punt as ek ‘n paar mooi sokkies in die winkel sien…

En julle? Ken julle ook mense wie se besittings – karig, of luuks – die veertjie in die hoed is wat hul persoonlikheid beklemtoon en definieer ?

Leave a comment

6 thoughts on “Dinge sê nie alles nie, maar dit sê baie…”