deelgoed ek deel graag met jou

Ware geluk

Wat is geluk?

Is dit ‘n geborrel  in jou gemoed? Is dit vrede, kalmte? Is dit ‘n gevoel of is dit ‘n ingesteldheid?

In die film Hook, het Peter Pan gesê mens het net ‘one happy thought’ nodig om te kan vlieg… As die eerste paar dinge waaraan jy kan dink swart is, dink langer…

Wat is swart? Is dit die afwesigheid van wit? Of is dit net te veel swart?

Wanneer is mens ongelukkig? Wanneer jy nie gelukkig is nie of wanneer die ongeluk, seer of hartseer te groot is?

Vind ‘n mens geluk in jouself?

Gelukkig is hy wat gelukkig kan wees sonder ander.
Gelukkiger is hy wat gelukkig kan wees ten spyte van ander.

Gelukkig is hy wat die voorreg het om sy geluk met iemand kan deel.
Gelukkiger is hy wat sy hartseer kan halveer deur dit met iemand te kan deel.

Is mens gelukkiger as hy nie nodig het om sy hartseer met iemand te deel nie? Is hy sterker?

As ‘n plant vaal verdor het, is al wat hy werklik nodig het seker net water? Nie die klank van water, of ‘n prentjie van water nie. Nie net gesels oor die dors na water nie, of selfs nie die wegredeneer van die versugting na water nie, maar emmers vol water! Johannes 4:14 verseker ons van die krag van die Lewende water waarna ons eintlik smag as ons soos ‘n bokkem deur ‘n stram glimlag die wêreld probeer oortuig dat ons ‘OK’ is. Kom na Jesus almal wat moeg en oorlaai is (Mat. 11:28). Troos, vrede, rus en ware geluk kom alleen van Hom. Sy lewenswater ontketen ‘n fontein wat nuut maak. Sy water misken nie die rou wonde, verwardheid of sommer net frustrasie nie, maar dit bring genesing as dit oor tyd daarin geweek word…

Selfs in die swartse gate is daar hoop. In die kern is daar altyd Jesus met uitgestrekte arms gereed om jou te vang as dit vir jou voel of die kolk jou uitmekaar gaan trek. Sluit jou oë in gebed om Jesus te sien – die antwoord op elke raaisel.

Amen

Joh 4:14 “maar wie van die water gedrink het wat Ek hom sal gee, sal in alle ewigheid nooit dors kry nie. Nee, die water wat Ek hom sal gee, sal in hom’n fontein wees met water wat opborrel en vir hom die ewige lewe gee.”

Mat 11:28 “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.”

There is Light in black holes…!

Leave a comment

2 thoughts on “Ware geluk”