deelgoed ek deel graag met jou

Porseleinkoppie se stempel

roosknoppe is pienk
teer blaartjies is groen
wat gaan jy met hierdie koppie….

Duchess, Rosebud

Doen ek soms die onthou-ding sien ek hierdie fraai porselein koppie waar dit geduldig, in die donker van my ma se toe buffet saam met haar porselein maats moes wag, vir ‘n spesiale dag om aan die deur te kom klop. Op so ‘n dag is sy met blink lepeltjies, vurkies en  koek  geniet. In ons huis was daar baie bêregoed, oppas-vir-anderdag-, net-vir-Krismis- en kuiergoed. In teenstelling daarmee was daar maar min spesiale dae en geleenthede maar as ek terugdink onthou ek klein spesiale saamdoen dinge. Die rommel-trommel tromspelery op my ma se maag terwyl ons op die bed lê en nonsies praat. Die jagekspedisie in die agtertuin saam met ma waar ons kamstig wilde diere bekruip en voorlê vir hul vleis. Na die tyd is die appel-biltonge in die pruimboom gedroog. Ek onthou ook dat tee die wonderkuur vir alle probleme was. As die lewe se swaar kom hang het, of die spanning ondraaglik was, is die ketel gekook. As botsende gemoedere gestoom het, sou ‘n koppie tee selfs hier genesing bring.

Doen ek die besluit-ding, om genoeg spesiale onthou-geleenthede in my en my kinders se lewe te skep? Ek wil Smaarties vir ontbyt eet en tee drink in porseleinkoppies, net omdat ek opgewonde is oor die eerste pienk rosies wat bot in my tuin. Ek wil koek bak en spesiale nie-verjaarsdagpartytjies hou om die gawe van vriendskap te vier. Ek wil kreatief speel en prakseer om verrassings en presentjies te gee wat wys dat jou vriendskap vir my kosbaar is. Ek wil meer as net ‘n maklike winkelpresent gee, ek wil iets van myself met jou deel. Ek wil met afwagting saam met my kinders klippe oplig en avontuurlustig weer die wonder van die lewe ontdek.

Uppington se donkiestandbeeld

Doen ek die lewe-se-jaag-dinge vergeet ek weer van my koppie en my ideale in my hart. My drome gaan lê in ‘n donker kas terwyl ek besig, gefokus en doelgerig my pad byster raak. Soos ‘n donkie met oogklappe in ‘n bakkiespomp, beur ek vorentoe sodat ek in sirkels op een plek bly loop. Onbewus van my asemrowende omgewing trek ek water vir ander diep uit ‘n bodemlose put terwyl ek meganies maal en darem so nou en dan ook ‘n slukkie kry, maar dit les skaars my branddors. Vinniger loop ek op my sirkelpad om gouer weer ‘n slukkie te kry, dalk dieper en soeter die keer. Geld loop soos water, het my ouers altyd gesê. Dit versadig ook nie diep nie, dit bring net ‘n groter dors.

Doen ek die stop-en-dink-ding, besef ek dat ek Lewende water in my koppie moet gooi. Van daardie waarvan die Bybel praat en wat die dors sal stop. Gratis wyn en melk wat diep versadig. As ek by Sy voete sit en Sy Woorde eet vou nuwe lewe in my oop. Soos ‘n roosknop vol belofte en verrassing om die geur wat Hy in my geplaas het, te leef.

Beenporseleintoets

Ek draai die piering om en sien: Duchess, Bone China. Beenporselein is sterker as gewone porselein want dit het ‘n kwart gemaalde beenas in. Ek lees, dit is juis hierdie komponent wat die porselein effe deursigtig maak as ‘n ligbron van agter op die piering sou skyn. Dit gee die koppie ‘n kenmerkende rinkel as jy dit met die vingernael tik en dit maak dit splinterweerstandig. Ek besef dat Jesus vir my verbrysel is sodat ek nie soos ‘n donkie met oogklappe moet maal nie maar met passie diep moet teug aan die lewe wat Hy gee. Ek lees verder op die piering …made in England. Ek is meesterlik uitgedink en gevorm deur die Koning van alle konings. Mag ek my unieke rinkel onbevrees vir dooie kritiek laat klink. Ek sal staande bly as die houe van die lewe my wil splinter en skerf omdat Jesus my deel van Sy gebeente gemaak het. Mag ek in die hitte van die stryd nie so vol wees van myself nie, maar mag mense Jesus deur my sien, elke dag meer en meer.

Mag hierdie koppie met sy pienk roosknoppe jou ook vandag verder laat dink…

Leave a comment

7 thoughts on “Porseleinkoppie se stempel”