Ons is telkens so besig om ons eie lewe te beplan en te bou, dat ons soms die hele prentjie miskyk. Maar kyk ons op, sien ons die Legkaartmaker wat vir ons ‘n spesiale toekoms en verwagting wil gee en wil help bou. (Jer. 29:11)
Die volgende gedig het ek byna veertien jaar terug geskryf toe ek nog gewroeg het oor of die Here vir my ‘n man gaan gee…
Legkaart van die Lewe
Toe ons nog kinders was
het ons legkaarte gepas.
Ure van voel ek kyk,
dae van las en druk…
tot finaal die prentjie pryk.
Vandag pas ek weer,
die stukkies keer op keer
in die legkaart van my lewe.
Strategie, plan en orde,
stukkies op die borde.
Kykkant lag na bo,
stel die grense in die raam,
só gaan ek my prentjie rig.
Vandag, las ek weer,
my raam breek middeldeur
die kykkant gryns blind vir my.
Sonde, seer en eie orde…
só rig ek in wanorde.
My plan forseer ek
prematuur in plek.
U sterf vir so ‘n gek!
Vandag lag ek weer,
U raam heel nou die seer.
Saam bou ons stukkies van my lewe
Kom Pappa, kom bou saam!
Kyk die passie rooi granaat
langs die uithou groen pampoen.
Die vreugde vlinder fladder
oor die perske bloeisels van vergewe.
Vandag bid ek weer.
U dank ek keer op keer.
Ai, party stukkies pas só fraai!
Roeping, doel en liefde
ek is ‘n stukkie van waarde.
Pas my in U legkaart van lewe
om kleur te gee op aarde,
U koninkryk na te strewe!
Vandag glo ek weer,
U ken ons deur en deur.
U pas stukkies langs mekaar…
Dankie vir my legkaart-maatjie en my legkaart-lewe !
One thought on “Legkaart van die Lewe”
vir jou my hartedief
hierdie kort intense brief
diep dankie vir jou jy-wees, B.
ek het jou innig lief!
Dit verstom my pal
Ek sien dit in ons kinders al
Van al-een tot nou – ‘n volle-oorvloed lewe
Sy Legkaart is die Groot Heelal